Voortrekkermonument in finansiële probleme – 't Scheldt

Voortrekkermonument in finansiële probleme

In ‘n mediaverklaring sê die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria: ‘Ons deel graag met u die uitdagings wat die VTM tans in die gesig staar: Vrese vir ebola het tot kansellasies in reise na S-A gelei. Die Dept. Kuns en Kultuur het die jaarlikse subsidie aan die VTM ten bedrae van R 2 miljoen gestaak. Die algemene ekonomiese klimaat het gelei tot ’n 19 % afname in betalende besoekers – 37 % in internasionale en 13 % in nasionale betalende besoekers. Die VTM het 26 % van sy totale inkomste verloor – R 0,5 miljoen net in die laaste drie maande. Die nuwe visum-vereistes het tot verdere reiskansellasies gelei. Dit bring ons vermoë om hierdie kosbare monument en terrein vir ons nageslag te bewaar in die gedrang en dwing ons tot ingrypende stappe’. VSA-hidrobrekingsmaatskappye in skuldkrisis

Na berig word het gedurende die eerste helfte van 2015 skalieboormaatskappye in die VSA se nuwe skuld en aanbod van aandele met $ 44 miljard gestyg – meer as in enige halfjaartydperk sedert 2007. Dit blyk o.m. uit die finansiële verknorsing van Chesapeake Energy, die tweede grootste boormaatskappy in die VSA, wie se aandele verlede maand getuimel het en wie se kontantvloei negatief was vir 22 van die afgelope 24 jaar. Tussen 2006 en 2011 het die maatskappy algehele of gedeeltelike skaliespeelbelange vir $ 17.9 miljard verkoop. As gevolg van hierdie transaksies het BHP en BP se waardasie met onders-keidelik $ 2,84 miljard en $ 2,1 miljard gedaal. Inmiddels het Royal Dutch Shell sy skaliebates in die VSA in September 2013 begin stort, nadat sy waardasie met $ 2.1 miljard gedaal het. Volgens Jonathan Deal van Treasure the Karoo Action Group (TKAG) is hierdie syfers ‘net die oortjies van die seekoei’ en toon dit duidelik waarom die ontginning van skaliegas in die Karoo uiters onwenslik sou wees.  China gaan Zimbabwe kragstasie bou
Die energiekorporasie van Zimbabwe PER Lusulu Power het ‘n ooreenkoms met die China State Construction Engineering Corp gesluit om volgende jaar ‘n steenkoolkragstasie in noordwes-Zimbabwe te bou ten einde 600 MW te lewer in ‘n eerste fase van uiteindelik 2 000 MW. Tans lewer Zimbabwe slegs 1 100 MW elektrisiteit, wat heel-temal te min is vir die behoeftes in die land. Volgens Stewart Perry, voorsitter van PER Lusulu Power sal Chinese finansiële instansies die projek befonds teen sowat $ 1.1 miljard. Die hele projek sal na beplanning in 2019 voltooi wees en dit lyk of China dan in beheer sal wees van elektrisiteit in Zimbabwe.

Reaksie op kritiek Mantashe op Springbokke
Luidens ʼn berig in Business Day Live het ANC sekretaris-generaal Gwede Mantashe gesê Saru laat Springbok-afrigter Heyneke Meyer toe om te ‘maak en breek’ net soos hy wil in sy spankeuses.
In reaksie hierop sê adv. Anton Alberts van die VF Plus in ‘n mediaverklaring: ‘Die Springbokspan bly een van S-A se voorste sportspanne wie se prestasies, wat wêreldtitels aanbetref, ongeëwenaard is. Tog is die ANC nie trots op hierdie merkwaardige span nie, maar sal hom eerder verdag maak en kritiseer. Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die kwotadruk deurentyd soos ʼn swaard oor die span en sy afrigter hang en dat dit ʼn negatiewe invloed het, soos bewys met die Proteas met die afgelope Krieketwêreldbeker. Daarenteen word geswyg oor die nasionale sokkerspan wat geen wittes sonder enige kwotadruk het, maar ʼn verleentheid vir die land geword het. Indien demografie op rugby en krieket toegepas sou word, sou daar net een witte vir die Proteas en kwalik twee vir die Springbokke gekies word. “ SAUK-bedryfshoof mes in vir mediavryheid
Die bedryfshoof van die SABC Hlaudi Motsoeneng het tydens ’n ontbytgeleentheid van The New Age gesê dat die probleem met die S-A media is dat hul houding en benadering tot nuus nie help om ’n nasie te bou nie. Hy het dit as beweegrede aangevoer waarom staatsbeheerde mediaregulering broodnodig is.Sy standpunt is gesteun deur Steven Motale, redakteur van The Citizen en Moegsien Williams, redakteur van The New Age.Volgens Motsoeneng moet die staat eenvoudig kyk dat die media veel meer “goeie nuus” oor S-A publiseer en dat onnodige negatiewe nuus verhoed moet word.Inmiddels is die siening van Motsoeneng skerp deur ander lede van die hoofstroommedia en opposisiepartye gekritiseer en word daarop gewys dat Winston Churchill gesê het, in Afrikaans vertaal: ‘’n Vrye pers is die waaksame wagter van elke ander reg wat vry mense nastreef’.Boerskot

Geef een reactie

Het e-mailadres wordt niet gepubliceerd. Vereiste velden zijn gemarkeerd met *