1212 Z A – 't Scheldt

1212 Z A

Selfbeskikking vir ons volk is iets wat nie langer agterweë gelaat kan word nie. Oor nog tien jaar is ‘n nuwe generasie wat nie ‘n soewereine Suid-Afrika geken het nie, die volgende geslag leiers. Daarom is dit belangrik dat elke landsburger wat die vlam van vryheid in sy hart dra, hierdie aksie ondersteun. So dikwels al is dit gestel dat ons dit aanvaar dat nie almal hierdie drang na vryheid in ‘n eie gebied nastreef nie.

Laat diegene wat gelukkig is in die nuwe S-A en glo dat hulle dit kan laat werk, hulle eie heil uitwerk. Daarom is die verootmoedigingsdienste die eerste groot stap op die pad van ons vryheid. Soos die laaste paar strofes in Die Stem dit so pragtig uitbeeld: ‘Soos ons vadere vertrou het leer ook ons vertrou, o Heer. Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer’.

Korrupsie duur voort
Na agt jaar se rondsit is daar, behalwe vir woorde, nog niks gedoen nie aan onbevoegde munisipale bestuurders wat sonder kwalifikasies in topposte sit. Die las is op die inwoners wat met swak dienste sit en natuurlik die belastingbetalers wat vir die salarisse moet opdok. Die regering het as vereiste gestel dat alle munisipale amptenare vanjaar bewys moes lewer dat hulle aan die minimum kwalifikasies en ervaring voldoen.
Op die oomblik lyk dit asof dit slegs die stelling is wat staan en dit lyk nie asof onbevoegdes in die pad gesteek gaan word nie. Pravin Gordhan, Minister van Samewerkende Regering, het verlede jaar gesê 170 finansiële amptenare in 278 munisipaliteite beskik nie oor die nodige vaardighede vir hul poste nie. Aangesien daar soveel kaderaanstellings en baantjies vir boeties is, is dit onwaarskynlik dat hierdie probleem ooit opgelos sal word, sê kenners wat die situasie dophou. Intussen is daar in die vorige boekjaar R 820  miljoen aan konsultante bestee weens ’n gebrek aan vaardighede, terwyl sekere munisipaliteite se geldsake in opeenvolgende boekjare so beroerd was dat ’n ouditmening nie moontlik was nie.
Die ouditeur-generaal het telkens uitgewys die meeste senior amptenare by munisipaliteite wat geoudit is, het steeds nie die basiese vaardighede wat nodig is om hul werk te doen nie en konsultante dra ook nie kennis oor aan die amptenare nie.

So word smokkelaars skatryk
Alhoewel die polisie deur harde werk daarin slaag om smokkelaars vas te trek, is daar talle wat skatryk word met smokkelhandel in S-A. Die land is ’n paradys waar misdadigers hulle geld maak terwyl die grootste deel van die polisiediens se mense onopgelei is om die skurke vas te vat. Dit is die mening van ’n voormalige polisie- offisier, na aanleiding van die jongste vangs, waar smokkelaars met miljoene Rand se perlemoen betrap is. Die polisie in die Wes-Kaap het op ’n enorme hoeveelheid perlemoen in die omgewing van Philippi afgekom. Die perlemoen se waarde word op sowat R 17,5 miljoen beraam. Dit is gevind toe die misdaad-bekampingseenheid ’n Ford-bakkie voorgekeer het. Die bestuurder van die bakkie het voet in die wind geslaan toe die polisie hom nader, maar die voertuig het feitlik niks opgelewer nie, behalwe ’n paar stukkies perlemoen. Die bakkie is gekonfiskeer en die polisie het begin om verdere ondersoeke te doen.  Uiteindelik het hulle met die ondersoeke ’n perseel gevind waar die massa perlemoen geberg word. Die perlemoen was in verskillende stadiums van droogmaak, en is alles gekonfiskeer, saam met gastenks en ander toerusting. Nog geeneen is in hegtenis geneem nie, maar talle inhegtenisnemings word eersdaags verwag.

Suid-Afrika gaan swaar tye tegemoet
Groot dele van S-A sal saam met Afrika gebuk gaan onder een van die kontinent se grootste droogtes in baie jare. Dit is die mening van ’n gesoute landbouer nadat dit duidelik geword het dat die El Niño weerpatroon besig is om sy tol te eis. Voorbeeld is die Jozinidam in Natal wat feitlik kurkdroog is, en gevolglik tientalle vee laat vrek het. Om die droë dam is karkasse te sien wat omgekom het omdat hulle die modderige oppervlakte van die droë dam te nader in die hoop om water te vind, en dan vas te val in die modder. Die damme in die Pongolo rivier se watervlakke daal vinnig weens die versengende hitte en min reën wat in die opvang gebied geval het. Boere in die gebied is bekommerd oor die stand van damme en het begin om die ondergrondse water te pomp vir hulle vee.
Kenners meen die kanse dat Cholera kan uitbreek in die gebied, is nie vêrgesog nie, en word daar ’n beroep gedoen op die owerheid om bystand te verleen deur ondergrondse water beskikbaar te stel. Die nasionale opgaardamme se water word besoedel, en munisipaliteite sowel as nywerhede wat dit veroorsaak, maak die situasie soveel erger. Boere is dit eens dat die land swaar tye tegemoetgaan en dat voedselsekerheid nou vir die eerste keer in jare, werklik ommerwekkend raak.

Geef een reactie

Het e-mailadres wordt niet gepubliceerd. Vereiste velden zijn gemarkeerd met *